Latest News

Persvrystelling
5 Oktober 2010
Click here for English press release

Sterling EQ Stel Tweede Album Vry

Suid-Afrika se instrumentale supergroep Sterling EQ beskryf hul nuutste CD as ”’n huldeblyk aan hul Afrikaanse aanhangers, Afrikaanse musiek, Afrikaanse liedjieskrywers, en Afrikaans die Taal”.  STERLING SPEEL AFRIKAANSbeloof om  meer as kers vas te hou by die groep se hoogs aangeprese debuutalbum Nova, en hul DVD Sterling EQ Live in Concert.  Die 15-snit album bestaan uit instrumentale weergawes van sommige van die mees legendariese Afrikaanse liedjies uit die 1970’s, -80’s en -90’s.

Hierdie SAMA-genomineerde instrumentale popgroep het reeds die instrumentale musiekgenre tot nuwe hoogtes in Suid-Afrika gedryf; trouens, danksy Sterling kan die genre nou met dié van die grootste sterre en topverkopers kersvashou.  Die groep se invloed in die industrie is duidelik uit die talle suksesvolle toere op hul kerfstok, internasionale optredes, verskynings en gaskunstenaar-optredes op prestige produksies soos SA Pop Idols, SA Music Awards, IPL Krieket openingswedstryde, en veel meer; en natuurlik die talle onderhoude op al SA se grootste TV programme, die gereelde uitsending van hul debuut-musiekvideo “Nova – The Movie” op al die hoof- TV kanale, en dekking in plaaslike koerante en tydskrifte.

Sterling Speel Afrikaans, ‘n Five Seasons Entertainment produksie wat vervaardig is deur Riaan Steyn (met uitvoerende vervaardigers Carina Bruwer en Harold Schenk), beloof om nog ‘n mylpaal te wees vir instrumentale musiek in Suid-Afrika.  Dit neem die luisteraar op ‘n verruklike herrinneringsreis; terwyl die kenmerkende Sterling-aanslag die musiek onweerstaanbaar maak selfs vir nie-Afrikaanssprekendes!

Sterling het in Maart 2009 hul suksesvolle debuutalbum Nova vrygestel, en in Februarie vanjaar hul hoogs aangeskrewe lewendige DVD Sterling EQ Live.  ”Virtuositeit was op die voorgrond in ons eerste album, so ons het besluit om in die tweede CD op die skoonheid van die melodie te fokus.”, sê Carina Bruwer, fluitis en leier van die supergroep.  ”Die perkefte liedjies het vir ons op ons voorstoep gewag!  Waar beter om te soek as in die ryk erfenis van Afrikaanse musiek?  So kan ons nou ’n huldeblyk lewer aan Afrikaans en ons Afrikaanse aanhangers, terwyl dit ons ook in staat stel om die wonderlike melodieë met ons nie-Afrikaanssprekende gehoor te deel.”

Sterling het deur middel van sosiale netwerke kontak gemaak met hul Afrikaanse aanhangers, en hulle gevra van watter Afrikaanse liedjies hulle ”Sterling-weergawes” sou wou hoor.  ”Ons is heeltemal oorval deur voorstelle, en moes op die ou end uit meer as 50 opsies kies om op die finale 14 te besluit.”   Bruwer voeg by dat hierdie een van hul mees uitdagende projekte tot dusver was.  ”Ons wou natuurlik iets opwindends en interessants maak van elke liedjie, sonder om te ver weg te beweeg van die oorspronklike trefkrag daarvan.”

Die 15 liedjies wat op die album verskyn sluit in Voshaarnooi, Mannetjies Roux, Ramaja, Karoonag, Ek Wil Jou Ken, Ska Rumba, Jy is Vrou, ’n prettige ”TV1 Keurspel” en ander legendariese treffers. 

Die album is op 4 Oktober tydens ’n spoggeleentheid by die Barnyard Teater in Durbanville vrygestel en beloof om ’n Kersmark-treffer te wees. 

VIR MEER INFORMASIE, OF OM ’n ONDERHOUD TE REEL

Kontak: Nicolette Michaels
Tel: 0860 110 309
E-pos: pr@sterlingeq.co.za
Webtuiste: www.sterlingeq.co.za

~ Einde ~